Mense vertel al vir dekades stories omdat dit emosies oproep en beïnvloed self hoe mense optree. Daarom het dit so belangrik geraak vir bemarkers om seker te maak as hulle 'n produk wil verkoop sal hulle dit moet vertel in 'n vorm van 'n storie. Tog is dit nie net bemarkers wat stories moet vertel nie maar elke industrie sal daaraan moet werk.

media update se Talisa Jansen van Rensburg het die geleentheid gehad om met Karmen Wiid, vryskut joernalis vir Finesse tydskrif, te gesels oor die belangrikheid van storievertelling in vandag se media bedryf.

Wat maak iemand ‘n uitstekende storieverteller?

‘n Uitstekende storieverteller is iemand wat weet wat hulle wil sê, interaktief met hul lesers omgaan en emosie in ander kan ontwaak. Die oomblik wat jou woorde ‘n prent in iemand anders se gedagtes skep en hulle iets laat vóél weet jy dat jy ‘n goeie storieverteller is.

Hoe kan iemand werk daaraan om meer gemaklik te raak met hulle storievertelling?

Om ‘n beter storieverteller te wees, moet jy tyd in jouself investeer sodat jy as mens iets waardevol het om te sê. Dit kan enigiets wees soos ekstra kursusse doen, boeke lees of lewenservaring opdoen.

Maak seker jy is iemand waarna mense wil luister. Maak ook seker dat jou stories relevant is en dat dit die regte gehoor op die regte tyd bereik. Hou dit bondig, maar beklemtoon emosionele elemente en maak seker jou lesers voel die nuanses aan.

Hoe kragtiger die tema is waaraan jou storie Koppel, hoe kleiner moet jou fokus wees. As jy byvoorbeeld oor ‘n wêreldoorlog gaan skryf, gaan langdradige politieke katalisators nie jou lesers boei nie.

Plaas eerder jou fokus op detail soos ‘n kind se verlate skoen langs die slagveld of ‘n weduwee se trane op ‘n handgeskrewe brief. Dit is hierdie tipe detail wat lesers emosioneel verbonde maak aan jou werk.

Watter advies kan jy gee aan mense wat Afrikaans praat wat hulself in die mediabedryf wil vestig veral oor alles meestal Engels is?

Dit is ‘n onmiskenbare realiteit dat Engels die oorheersende taal in die mediabedryf is en dit is natuurlik verstaanbaar. Dit hoef egter nie enige Afrikaanssprekende persoon terug te hou nie.

Daar is ‘n groot mark vir Afrikaans in die media en vermaaklikheidsbedryf. Kyk maar net na al die nuwe Afrikaanse feeste, boeke, films, maatskappye en TV-kanale wat jaarliks die lig sien. Dit is ‘n bewys dat die mark honger is vir Afrikaans.

Dus, my raad aan enigiemand wat hulself in Afrikaans wil vestig, sal wees om vol te hou met die skep van nuwe, kreatiewe inhoud in ons taal. Daar sal altyd iemand wees wat dit gaan wil lees.

Hoe dink jy kan mense in die mediabedryf seker maak dat hulle storievertelling verband hou met hulle gehoor?

Stories is waardevol wanneer dit die regte gehoor bereik. Dus, om seker te maak dat jou stories verband hou met jou gehoor, moet jy uitvind wie jou ideale leser is — die persoon wat heel waarskynlik jou stukke gaan lees en daarvan gaan hou.

Doen ondersoek om uit te vind wat hul behoeftes is, wat maak hulle opgewonde, wat maak hul kwaad, waaroor gee hul om en wat is die tipe dinge wat hul iets laat voel. As jy antwoorde op daardie vrae het kan jy nie verkeerd gaan nie.

Die skrywer moet egter waak daarteen om heeltemal van hul eie belang te vergeet.

As jy altyd net gaan skryf wat jy dink ander [mense] wil hoor, gaan jy nie stories vertel met emosionele diepte nie.
As jy ? storie vertel waaroor jy self passievol is, sal ander outomaties ook aanklank daarby vind.

Hoe dink jy kan storievertelling die media bedryf verander en verbeter?

Die samelewing van vandag is oorval met feite, produkte en vermaak. Ons is al so afgestomp van al die advertensies en nuusflitse waarmee ons daagliks oorval word. Daar is net te veel keuses. Die enigste ding wat die media oor het om mense se aandag mee te trek is emosies.

Hoe kry jy enigiemand om oor iets om te gee? Emosies. Hoe ontwaak mens emosie in iemand? Stories.
Ek glo vas dat ons nie net ons stories is nie, maar ook die stories wat ons hoop om te word. Die totaliteit van die menslike siel bestaan uit stories. Daarom sal die mediabedryf nuwe hoogtes bereik as hulle meer op stories fokus, eerder as vaal feite.

Wat dink jy is die belangrikheid van storievertelling in die wêreld vandag?

In ons wêreld van vandag is stories belangriker as enigiets anders. Stories is die mondstuk van liefde en menslikheid. Dit is hoe ons leer om begrip vir mekaar te hê en brûe te bou. Al wat ons agterlaat is stories en al wat ons het van die verlede is stories.

Dit vorm die basis van hoe mense nog altyd die wêreld verstaan het, en in ? manier is dit nog steeds so. Enige bedryf wat stories vertel sal altyd floreer. Dink maar net aan films, boeke en musiek. Inhoud is alles en goeie inhoud is direk gekoppel aan die vertelling van stories.

Dit is hoe mense met mekaar vereenselwig, hoe ons onsself aan die wêreld voorstel, waar ons emosies gebore is en hoe handelsmerke hulself as ikone vestig.

Enigiemand wat suksesvol wil wees in die 21ste eeu behoort te weet dat die vertelling van stories die kragtigste geldeenheid is.

Is jy dalk ook ‘n storieverteller? Watse raad sal jy vir Afrikaans sprekend mense kan gee?

Wil jy op hoogte bly met die nuutste nuus en tendense? Maak seker om in te teken op ons gratis nuusbrief!

So gepraat van verskillende tale wees seker om die volgende te lees en leer hoe jou taal jou manier van skryf beïnvloed: How your language shapes the way you think and create content.